Krone 6-konsertreeks spog met Namaqua Wines wat weer aansluit as borg

Die immergewilde Krone-konsertreeks, wat vanjaar vir die sesde agtereenvolgende keer
aangebied word, is trots om Namaqua Wines weer as borg te verwelkom. Gedurende Augustus
vanjaar sal duisende konsertgangers in Kaapstad én Pretoria weer saamtrek om saam met van
die land se top kunstenaars te sing as dié konsertreeks plaasvind.

Namaqua Wines is reeds sedert die eerste konsert deel van die Krone-familie.

“Namaqua Wines en Krone is die perfekte pasmaats. Nét soos hierdie saamsing-konsert
vriende bymekaar bring vir hope pret, is Namaqua-produkte ook daar om geleenthede te skep
vir vriende en familie om saam te kuier en spesiale herinneringe te maak,” het Annelie Venter,
bemarkingsbestuurder van Namaqua Wines, gesê.

Brendan Peyper is een van die kunstenaars wat ook al ’n rukkie deel van die Krone-familie is en
het vertel dat dit vir hom ’n eer is om die gehoor te vermaak – en hopelik ’n verskil in hul lewens
te maak tydens die Krone-konserte.

“Dit is ook natuurlik ’n groot voorreg om saam met al die ongelooflike talentvolle kunstenaars op
een verhoog te wees,” het Peyper vertel.

Saam met Peyper kan konsertgangers ook uitsien na Theuns Jordaan, Lianie May en Dirk van
der Westhuizen wat vir die eerste keer by die Krone-familie aansluit. Saam met hulle is die
immergewilde Kurt Darren, Juanita du Plessis, Brendan Peyper, Snotkop, Refentse, Ricus Nel,
Elizma Theron, Nicholis Louw, Manie Jackson én Robbie Wessels in aksie om gehore met
plaaslike én internasionale ranglys-treffers te bekoor.

Krone 6 vind vanjaar eerste in Kaapstad plaas op Saterdag, 3 Augustus om 19:00 en Sondag, 4
Augustus om 14:00 by die Grand Arena, by GrandWest. Pretoria se konserte is op 16 Augustus
om 19:00, 17 Augustus om 18:00 en 18 Augustus om 14:00 by die Sun Arena, Time Square.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets en kaartjiepryse wissel van R195 vir ’n staankaartjie teen die
verhoog, tot R470 vir bespreekte sitplekkaartjies. Hier volg die skakel vir besprekings:
http://bit.ly/Krone6Kaartjies.

Hou gerus Krone se sosiale media dop vir al die inligting en gebeure. Facebook: @KroneFans,
Twitter: @KroneFans en Instagram: @kronefans.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

© 2019 MyHantam. Alle Regte Voorbehou. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?